Elke vyf jaar neem Suid-Afrikaanse leerders regoor die land deel aan ʼn internasionale toets wat ons help om tendense te sien oor hoe goed ons leerders lees. Dit word die Studie oor die Vordering in Internasionale Leesgeletterdheid (PIRLS in Engels) genoem. Leerders in Graad 4 en 6 kry uittreksels uit tekste wat in hul moedertaal geskryf is om te lees. Hulle word begripsvrae gevra gebaseer op wat hulle gelees het om te toets of hulle vir betekenis kan lees.
Die resultate vir die 2021-toets was nie goed nie.
Volgens die 2016-toets kan 78% van leerders in Graad 4 nie vir betekenis lees nie. In 2021 het die reslutate bevestig dat daar ʼn verontrustende afwaartse neiging is wat bewys dat slegs 19% van Suid-Afrika se 10-jariges in hul moedertaal vir betekenis kan lees.
81% van Graad 4-leerders in Suid-Afrika kan nie vir betekenis lees nie (PIRLS 2021)
Dit beteken dat 81% van ons leerders:
- Nooit akademies sukses sal behaal nie
- Heel waarskynlik nie matriek sal slaag nie
- Sal sukkel om werk te kry
- Dit nooit sal geniet om ʼn boek te lees nie
- Altyd gefrustreerd sal voel wanneer daar uit ʼn handboek of geskrewe teks geleer moet word.
Daar is egter ʼn oplossing.
Navorsing toon dat ʼn leerder se moedertaal die beste taal vir geletterdheid en leer regdeur laerskool is (UNESCO, 2008a).
Leerders wat in hul moedertaal leer hoe om te lees, sal heel waarskynlik in die skoolstelsel bly en sukses behaal (Kosonene, 2005); ouers sal heel waarskynlik met hul leerders se onderwysers kommunikeer omdat dié gesprekke in hul moedertaal plaasvind (Benson, 2002); leerders se denkvaardighede sal vinniger ontwikkel en sal sterker wees as hulle eers in die taal wat hulle tuis praat, onderrig word (Nishanthi, 2020); en leerders sal ʼn sterker persoonlike en kulturele identiteit ontwikkel en ʼn sterker verbintenis met hul kultuur hê (Nishanthi, 2020).
Navorsing toon dat leerders geletterdheidsvaardighede vinniger en doeltreffender aanleer wanneer hulle in hul moedertaal onderrig word. Baie navorsers het ook bewys dat die geletterdheids- en begripsvaardighede wat leerders in hul moedertaal leer 100% oordraagbaar is na enige ander taal wat later aangeleer word. Om dié rede stel die KABV-kurrikulum voor dat skole ʼn toegevoegde tweetaligheidsbenadering volg. Toegevoegde tweetaligheid beteken dat die bykomende taal by leerders se eerste taal (moedertaal) gevoeg word, eerder as om hul moedertaal te vervang. Leerders sukkel om geletterdheidsvaardighede in albei tale te ontwikkel as hulle van Graad 1 af in die bykomende taal (gewoonlik Engels) onderrig word, en so word Engels stadig maar seker sterker as die moedertaal. Dit word afbrekende tweetaligheid genoem.
As leerders wat ʼn Afrikataal praat, in Engels begin skoolgaan, kan hul skoolopleiding met ongeveer ses jaar (Cummins, 1981) verstadig word. Dit sou beteken dat wanneer dié leerders Graad 6-leerders is, hul Engels op die vlak sal wees van Graad 1-leerders wat in hul moedertaal onderrig word.
Om te lees vir betekenis is die toegang tot alle geleerdheid. Om leerders dus die beste begin vir hul onderrig te gee moet hulle in hul moedertaal leer hoe om vir betekenis te lees en te skryf. Die ontwikkeling van Engels as ʼn bykomende taal sal makliker plaasvind as die leerder se moedertaal-geletterdheidsvaardighede bemeester is.
Leerders verdien kwaliteitonderwys. Hulle verdien ʼn toekoms. Hulle verdien egter ook om dit te geniet om te lees. As hulle dit geniet om te lees en stories lees wat in hul moedertaal geskryf is, kan hulle hulself en hul wêreld in dié stories sien. Dit sal hulle waardig laat voel en hul selfvertroue opbou.
Die beste geskenk wat jy aan leerders kan gee, is die vermoë om in hul moedertaal te lees vir betekenis. Dit sal hulle help om ʼn liefde vir hul kultuur en taal te ontwikkel en sal aan hulle ʼn goeie begin tot hul onderrig gee.
References
Benson, C. & Kosonen, K. (Eds.) 2013. Language issues in comparative education: Inclusive teaching and learning in non-dominant languages and cultures. Rotterdam: Sense Publishers.
Benson, C. 2002. Real and potential benefits of bilingual programmes in developing countries. International Journal of Bilingual Education and Bilingualism, 5(6): 303-317.
Nishanthi, R. 2020. Understanding of the importance of mother tongue learning. International Journal of Trend in Scientific Research and Development (IJTSRD). ISSN: 2456-6470, 5(1): 77-80.
The Common Underlying Proficiency model (Cummins, 1980a, 1981a, as cited in Baker, 2011).
Baker, C. 2011. Foundations of bilingual education and bilingualism, 5th ed. Bristol: Multilingual Matters.